Wat die AntWoord bediening glo oor God:
God het as Skepper alles gemaak wat ons kan sien en nie kan sien nie. God is 'n persoonlike en unieke geestelike wese. Hy openbaar onder meer die volgende eienskappe: almagtigheid, alomteenwoordigheid, alwetendheid, onafhanklikheid, ewigheid, onveranderlikheid, regverdigheid, heiligheid en liefdevolheid. God as ‘n enkele Goddelike wese openbaar homself in drie onderskeibare en selfstandige persone, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees. God het die mens as die kroon van sy skepping gemaak om in 'n persoonlike verhouding met Hom te staan.
Wat die AntWoord bediening glo oor Jesus Christus:
God het homself op 'n spesifieke tyd in die geskiedenis en met 'n spesifieke doel in die persoon van Jesus geopenbaar. Jesus is as ‘n persoon met 'n volkome mens natuur uit 'n maagd gebore. Hy het in alle opsigte (intellektueel, emosioneel, sosiaal, fisies en geestelik) in sy mensheid ontwikkel. Jesus was as persoon egter ook volkome ‘n Goddelike natuur deelagtig. Jesus het Sy Godheid pertinent en verbaal verklaar, maar dit ook bevestig deur die wonderwerke wat Hy verrig het en die sondelose lewe wat hy gelei het. Jesus het in totale gehoorsaamheid aan Sy Vader se wil, Homself vrywillig en doelbewus aan 'n kruisiging onderwerp, sodat Hy vir die vergewing van alle mense se sondes kon sterf. Nadat Hy aan die kruis gesterf het, is Hy begrawe en is daarna deur God uit die dood opgewek. Sy fisiese opstanding uit die dood wys daarop dat almal wat sy Verlossing aanvaar, ook uit die dood sal opstaan om vir ewig saam met God te wees.
Wat die AntWoord bediening glo oor die Mens en Verlossing:
God het die mens gemaak om in 'n persoonlike verhouding met Hom te staan. Adam en Eva, na die beeld van God geskape, het as die eerste mense en as verteenwoordigers van die mensdom, uit vrye wil gekies om aan God ongehoorsaam te wees. Hierdie ongehoorsaamheid was die begin van sonde en sou vervolgens deel uitmaak van elke daaropvolgende mens se basiese neiging en natuur. Hierdie sonde het die verhouding met God verbreek. God het verklaar dat die mens se sonde met die dood gestraf moes word, want slegs iets so volledig en finaal soos die dood, sou sonde in die teenwoordigheid van sy Heiligheid kon uitwis. God het egter in sy algehele liefde vir die mens, besluit dat Hyself die straf vir die mens se sonde sou dra. Daarom stuur God die Vader vir Jesus, sy Seun, wat self geen sonde gedoen het nie, om vir die mens se sonde te sterf. Sodoende ontkom die mens die uiteindelike gevolge van sonde (die ewige hel). ‘n Mens word weergebore en word ‘n nuwe mens wanneer die mens in geloof aanvaar dat God sy/haar sonde (van die verlede, hede en toekoms) in liefde vergewe het toe Jesus aan die kruis gesterf het. Dit is met hierdie aanvaarding van Jesus deur geloof alleen - sonder om ooit self iets te doen om vir God aanvaarbaar te probeer wees - dat God se Heilige Gees by die mens inwoning vind. Dit is hierdie Gees van God wat wedergeboorte moontlik maak, wat die verhouding tussen die mens en God herstel, wat die mens in staat stel om uit dankbaarheid gehoorsaam te wees aan God en hom/haar verseker van 'n ewige lewe saam met God.
Wat die AntWoord bediening glo oor die Bybel:
Die geskrewe woord van die Bybel (die Ou en Nuwe Testament) is saam met die Persoon Jesus Christus, God se spesifieke manier om Homself en Sy wil aan die mens bekend te maak (God maak sekere aspekte van Homself ook op ander maniere bekend soos bv. in die skepping). Die Bybel is deur verskeie mense geskryf wat elkeen in die konteks van 'n eie persoonlikheid en kultuur geleef en geskryf het. Dit was egter omdat God deur sy Heilige Gees hierdie skrywers geïnspireer het dat die Bybel die spesifieke uitdrukking is van God se wil en openbaring. Die inhoud van die Bybel is egter ook in verskillende style geskryf en daarom is die betekenis van spesifieke gedeeltes onder meer afhanklik van die relevante konteks. Hiermee saam is dit egter ook dieselfde Gees van God wat die Bybel geïnspireer het, wat mense help om die Bybel reg te verstaan.