Udo Karsten is sedert 1997 in voltydse Christelike bediening betrokke. Sy fokuspunte vir bediening het sedertdien onder meer die volgende ingesluit: Vriendskap-evangelisasie op kibboetse in Israel (CSV-diensjaar), straat-evangelisasie in Hillbrow (NGK Johannesburg), die ontwikkeling en aanbieding van kursusse oor dissipelskap (MES) en die fasilitering van kleingroepe onder hawelose mense in die middestad van Johannesburg. Hy was ook sedert 2003 deel van Athletes in Action, die sportbediening van Campus Crusade for Christ. Hier was hy spesifiek betrokke by studente van die Universiteit van Johannesburg deur evangelisasie, kleingroep-dissipelskap en die aktiewe bou van verhoudings. Udo is sedert 2005 voltyds betrokke by die ontwikkeling en werk van AntWoord, 'n bediening vir Christelike Apologetiek. Udo is getroud met 'n opvoedkundige sielkundige werksaam by die Universiteit van Johannesburg.
André van Zyl het van 1991 tot 1997 aan die RAU gestudeer. Hy is sedert 1995 by 'n verskeidenheid onderwys instellings werksaam (laerskool, hoërskool, tegniese kolleges, technikons en onderwys in Engeland). Hy is huidiglik verbonde aan die Universiteit van Johannesburg. Onderwys is André se hoof bedieningsfokus, maar hy was en is steeds by verskillende bedienings van die kerk ingeskakel. Hy was betrokke by 'n diensjaar in die NG-gemeente Johannesburg en terwyl hy vir twee jaar in Engeland woonagtig was, was hy ook spesifiek verantwoordelik vir opleiding van selgroepleiers in die SA-gemeente Londen. Hier het André in 2001 betrokke geraak by 'n bediening vir Apologetiek. Hierdie bediening het kampe gehou, selgroepe besoek en kursusse aangebied om gelowiges toe te rus en om terselfdertyd ook die evangelie te verduidelik. Die totstandkoming van die AntWoord bediening is die vrug van 'n soortgelyke bediening wat reeds sedert 2002 informeel in Gauteng bestaan.
Johan Erasmus is oorspronklik van Newcastle waar hy aan die Hoërskool Ferrum gematrikuleer het. In 2005 het hy as eerstejaar ingeskryf by die NWU Potchefstroom en ʼn trotse inwoner van Veritas manskoshuis geword. Sedertdien het hy sy BA in Geesteswetenskappe verwerf en is tans besig om sy nagraadse studies in filosofie voort te sit. In 2008 raak Johan betrokke by die AntWoord bediening en is tans werksaam by die Gereformeerde Kerk Rietvallei.
Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!