Is die Bybel betroubaar?

deur Phillip Scheepers
 
Wanneer die wêreld ons as Christene uitvra of konfronteer oor dit wat ons glo, is ‘n groot deel van ons antwoord dat dit wat ons glo gebaseer is op wat in die Bybel geskryf staan. Baie mense se reaksie is dan om by ons te wil weet hoekom enigiemand dit wat in die Bybel staan, moet glo. Die Christen wat weet hoekom hy/sy glo wat hy/sy glo, behoort sonder huiwering hierop te kan antwoord: Ek glo wat in die Bybel staan omdat ek glo dat dit waar is!
 
Dit is egter presies hier waar skeptici dan hulle aanval loods deur te vra: Hoe weet ‘n mens dat wat in die Bybel staan regtig waar is? Hiermee wil skeptici eintlik twee dinge sê: Eerstens, dat baie van wat in die Bybels geskryf staan, nie is wat oorspronklik geskryf is nie, en tweedens, dat selfs al is dit wat oorspronklik geskryf is, het dit nie werklik so gebeur nie. Die implikasie is duidelik. As mense die bron van ons geloof kan aanval en as vals en onbetroubaar kan bewys, dan hoef niemand te glo wat Christene of die Bybel sê nie. 
 
Die kwessie rondom die betroubaarheid van die Bybel het baie aspekte waarvan sommige baie kompleks is. In hierdie artikel sal die fokus wees op die redes vir waarom ons die Nuwe Testament as betroubaar aanvaar, en spesifiek die Evangelies, aangesien dit die sentrale elemente van die lewe en bediening van Jesus aan ons oordra. Die volgende vrae word tipies gevra:
 
  • Hoe kan ‘n mens seker wees dat die Evangelies soos wat ons dit vandag het betroubaar is? Met ander woorde, kan dit dalk wees dat die woorde wat ons voor ons het, nie dieselfde is as dit wat oorspronklik neergeskryf is nie?
  • Hoe kan ‘n mens seker wees dat dit wat in die Evangelies staan, werklik die lewe en bediening van Jesus weerspieël en nie maar net legendes is wat later ontstaan het nie?
  • Kan dit wees dat kerkleiers later hulle eie agenda in die lewe van Jesus ingeskryf het, sodat die Evangelies uiteindelik meer verteenwoordigend is van latere opinies, as van wat Jesus self sou gesê het?
 
Algemene opmerkings oor die Bybel
 
Voordat ons spesifiek by die beantwoording van hierdie vrae uitkom, net die volgende oor die Bybel in die algemeen. Hoewel hierdie argument natuurlik nie sonder meer deur 'n ongelowige aanvaar sal word nie, is dit duidelik dat die Bybel self daarop aanspraak maak dat God op 'n bonatuurlike en onfeilbare manier Sy openbaring aan mense oorgedra het (2 Tim 3:16, 2 Pet 1:20,21). Daarom behoort die Bybel ook die merktekens van hierdie inspirasie te dra. Dit sien ons byvoorbeeld in die feit van vervulde profesie (lees byvoorbeeld Jes. 53 wat ongeveer 600v.C. geskryf is en vergelyk dit met die lewe van Jesus) en in die feit dat die Bybel ten spyte van 'n groot klomp skrywers, kulture, tale, omstandighede en karakters tog 'n merkwaardige eenheid vertoon. Hierdie eenheid vind ons in die feit dat die hele Bybel die verloop van God se verlossingsplan deur Jesus vir ons beskryf.
 
Het ons die inhoud van die oorspronklike teks van die Evangelies?
 
Baie mense sal Christene uitdaag deur te sê dat ons nie seker kan wees dat dit wat ons vandag voor ons het, die inhoud van die oorspronklike Evangelies is nie. Daar is baie variasies op hierdie tema. Moslems sal byvoorbeeld aandring dat die Evangelies soos wat ons dit nou het, vervalsings is, terwyl New Agers gewoonlik ander sogenaamde ‘evangelies’ (soos die Evangelie van Thomas) sal uitwys as die ware Evangelies.
 
Hierdie vraag oor of ons die inhoud van oorspronklike teks het, is daarom in 'n sekere sin die belangrikste vraag in hierdie bespreking. As ons hierop 'Ja!' kan antwoord, gaan dit die beantwoording van baie ander vrae soveel makliker maak. Die feit is, soos ons sal sien, dat ons met groot sekerheid 'Ja' op hierdie vraag kan antwoord.
 
Dit is nodig om hier te noem dat die oudste manuskripte wat ons van die Nuwe Testament het, nie die oorspronklike dokumente is, soos wat dit die heel eerste keer neergeskryf is nie. Wat ons het is kopieë. Die vraag is dus oor hoe betroubaar sulke kopieë is aan die oorspronklike teks.
 
Kom ons begin so ‘n ondersoek deur te vra hoe die teks van die Nuwe Testament vergelyk met ander historiese dokumente waarvan die betroubaarheid nie regtig in twyfel getrek word nie. Ons hanteer die Nuwe Testament dus nou vir die oomblik bloot as antieke Griekse dokumente en kyk na van die getuienis:
 
1.                 Ons het meer kopieë van die vroeë manuskripte van die Nuwe Testament as van enige ander antieke geskrif. 
·       Die eerste en oorspronklike teks van boeke soos 'Die Annale van Rome' deur Tacticus is in 113nC geskryf. Hiervoor het ons 2 kopieë van die oorspronklike manuskripte wat ongeveer uit 850nC dateer. 
·       Vir die 'Joodse Oorlog' van Josephus (eerste eeu nC), het ons 9 kopieë wat uit ongeveer die 11de en 12de eeu dateer. 
·       Die antieke dokument waarvan ons die meeste Griekse manuskrip- kopieë het, is die Illiad van Homerus. Hiervoor het ons 650 manuskrip-kopiee waarvan die meeste meer as 1000 jaar nadat die Illiad geskryf is, dateer. 
·       Vir die Nuwe Testament het ons ongeveer 5000 antieke Griekse manuskrip-kopieë. Die oudste fragmente op papirus is uit die Johannes-Evangelie (die John Rylands papirus) en dateer teen 140 nC, dit is minder as 'n honderd jaar nadat die Evangelies oorspronklik geskryf is. As ons dieselfde tydsverloop (en vertalings) toelaat as vir die ander geskrifte wat genoem is (ongeveer 800-1000 jaar), dan kan ons verwys na 26 000 manuskrip-kopieë van die Nuwe Testament in 'n groot verskeidenheid tale. Die vraag word dan oor hoekom mense bereid is om die betroubaarheid van ander tekste te aanvaar, maar nie die van die Nuwe Testament nie.
2.                 As die Nuwe Testament nie betroubaar is nie, is geen historiese manuskrip nie. Skeptici wys graag daarop dat die Evangelies aanvanklik met die hand gekopieer is en dat kopieerfoute so ingesluip het. Hierdie feit word egter nie betwis nie. Die vraag is oor die mate waartoe sulke kopieerfoute die teks soos wat ons dit vandag het, beïnvloed. Die antwoord is eenvoudig - bitter min! Die feit dat ons oor so ‘n magdom aantal manuskrip-kopieë beskik, help ons baie, want deur hulle met mekaar te vergelyk, kan ons met groot sekerheid die korrekte lees van ‘n betrokke teks aflei. Verder word die verstaan van geen Christelike leerstuk bedreig deur die verskille tussen die manuskripte nie. Die feit van die saak is dat ons meer kontrole kan uitoefen oor die integriteit van die teks van die Nuwe Testament, as oor enige ander klassieke teks waar kruiskontrole nie moontlik is nie weens ‘n gebrek aan genoeg manuskripte.
3.                 Slegs die 'kanonieke' Evangelies slaag die toets as betroubare Evangelies. Baie mense beweer dat ander 'evangelies' nader is aan ‘n ware beskrywing van die lewe van Jesus as dit wat ons in die kanonieke Evangelies het. Om hierdie bewering sorgvuldig te ondersoek, is ‘n tema op sy eie, maar by nadere ondersoek is dit duidelik dat so ‘n bewering vals is. In baie van hierdie sogenaamde ‘evangelies’ word verhale vertel wat direk in kontras is met die direktheid en eenvoud van die kanonieke Evangelies. Dit is bykans deurgaans die geval dat die Godheid van Jesus oorbeklemtoon word ten koste van die feit dat Hy ook werklik mens was.  Die bekendste twee 'evangelies' waarmee ons dikwels gekonfronteer word, is die Evangelie van Thomas (waarvoor die lede van die ‘Nuwe Hervorming’ en die ‘Jesus Seminaar’ baie lief is) en die Evangelie van Barnabas (wat veral deur Moslems aangehaal word). Ons kan baie maklik aantoon dat die Evangelie van Barnabas 'n vervalsing is van so laat as 1000 nC! In die Evangelie van Thomas is baie sterk tendense van die Gnostisisme te kry, trouens, dit is in die tipiese styl van ‘n tweede eeuse Gnostiese dokument geskryf deurdat alle verhalende beskrywings weggelaat is. Gnostisisme is 'n denkrigting wat sedert die 1ste eeu sterk opgang gemaak het en wat beweer het dat die fisiese boos is terwyl net die geestelike rein en heilig is. ‘Christene’ is deur die Gnostiek beïnvloed en het daarom die mensheid van Jesus en Sy aardse bediening onderbeklemtoon.
 
Wanneer mense aanvoer dat ons nie ‘n betroubare weergawe van die oorspronklike teks van die Nuwe Testament het nie, is dit duidelik ‘n geval van dubbele standaarde. ‘n Noukeurige beoordeling van die teks van die Nuwe Testament dui baie sterk op die betroubaarheid daarvan, veral ook wanneer dit met ander antieke geskrifte wat as betroubaar beskou word, vergelyk word.
 
Is die Evangelies nie maar net legendes nie?
 
Die tweede lyn van aanval waarmee Christene te doen kry, is van mense wat beweer dat alhoewel die teks wat ons het ‘n betroubare weergawe is van wat oorspronklik geskryf is, weerspieël die Evangelies egter nie die werklike lewe van Jesus nie. Die rede wat hiervoor aangebied word is dat die Evangelies eintlik maar net legendes is, dat mense lank na die dood van Jesus, sekere dinge wat nie in die werklikheid gegrond was nie, aan Hom begin toeskryf het. 
 
So ‘n bewering is egter ongegrond. Sorgvuldige geskiedkundige ondersoek dui daarop die Evangelies almal binne 'n generasie of twee na die lewe van Jesus, geskryf is. Die feit is egter dat legendes eeue neem om te ontwikkel en ontstaan juis omdat daar geen getuies is om sekere feite te bevraagteken nie. Niemand kan byvoorbeeld die details van Koning Arthur se lewe betwis nie, aangesien dit eeue na Sy dood eers in die vorm van legendes opgeskryf is. In teenstelling hiermee is die Evangelies slegs binne enkele dekades na die gebeure waarna dit verwys, opgeteken. Dit beteken dat daar nog mense was wat die gebeure soos dit in die Evangelies weergegee is, kon korrigeer. 
 
Reeds in 1844 het die teoloog Julius Muller sy kollegas, wat beweer het dat die Evangelies legendes is, met die volgende eenvoudige vraag gekonfronteer: "Wys vir my enige voorbeeld van enige legende wat so vinnig ontwikkel het op enige plek in die geskiedenis." Hierdie is 'n vraag wat vandag nog steeds nie deur die voorstaanders van die legende teorie beantwoord kan word nie. 
 
Ons kan verder daarop wys dat die Evangelies uiters betroubaar is in allerlei gegewens wat daarin voorkom. Argeologiese ontdekkings het byvoorbeeld al telkens bewys dat Lukas akkuraat was in die noem van sekere plekke, heersers ens. Sulke presiesheid is nooit kenmerkend van iets soos legendes nie. Dit maak sin om aan te neem dat as die Evangeliste in die 'klein' dingetjies betroubaar was, dan was hulle dit ook gewees in terme van die 'groot' dinge. Ook die vroeë kerk het groot klem gelê op die getroue weergee van die lewe van Christus, soos wanneer Paulus in 1 Kor. 15 sê: “Ek het ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het…”
 
Laastens is dit ook so dat die Evangelies details weergee wat die betroubaarheid van iets soos die aanspraak dat Jesus die opgestane Here is, negatief sou beïnvloed. As dit bloot ‘n legende was, sou daar tog nie ook details wees wat verleentheid kon veroorsaak nie. So is al die Evangelies dit eens dat dit vroue was wat Jesus eerste gesien het na Sy opstanding. As ons egter in ag neem dat vrouens se getuienis in daardie era as onbetroubaar beskou is en nie in 'n hof toegelaat is nie, dan wonder mens hoekom hierdie inkriminerende feit so pertinent in die Evangelies weergegee is as die Evangelies eintlik net legendes was.
 
Reflekteer die Evangelies nie maar net konflik in die vroeë kerk nie?
 
Daar is nog ‘n uitdaging aan Christene deur mense wat weereens sal erken dat die teks soos wat ons dit vandag het, wel ‘n betroubare weergawe van die oorspronklike is. Daar word aangevoer dat baie van dit wat in die Evangelies geskryf staan, die produk is van latere kerkleiers wat hulle konflikte in die Evangelies teruglees het en dus vir Jesus 'gebruik' het om hulle posisie te regverdig. Hierdie bewering kan beantwoord word deur daarop te wys dat ons tog baie goed weet wat die konflikte in die vroeë kerk was, maar dat ‘n mens dit nie uit die Evangelies aflei nie. Ons lees van hierdie konflikte in Handelinge en in die apostels se briewe. Van die groot kwessies is onder andere die besnydenis, geestelike gawes en die eet van vleis wat aan afgode geoffer is. Tog het ons van hierdie kwessies byna geen sprake in die Evangelies nie, iets wat tog nie so sou wees as kerkleiers werklik hulle eie standpunte in die lewe van Jesus wou teruglees nie.
 
Slot
 
Daar is nog veel meer oor hierdie onderwerp te sê. Tog kan ‘n mens baie duidelik sien dat ons as Christene ons geloof in die Bybel, en dan veral in die Evangelies as 'n akkurate weerspieëling van die lewe en bediening van Jesus, nie sommer net uit die lug gegryp het nie, maar dat dit op baie sterk gronde staan. Christene wat ‘n bietjie moeite doen om te verstaan wat hulle glo en hoekom hulle dit glo, kan met groot vrymoedigheid met ander wat hierdie dinge betwyfel, in gesprek gaan. Tog moet ons ook besef dat baie mense eenvoudig nie in die betroubaarheid, en uiteindelike gesag, van die Bybel, wil glo nie. Dit sou beteken dat hulle dan die boodskap daarvan ook sal moet glo, en dit wil hulle nie doen nie. Hierdie boodskap sê dat God homself in Jesus van Nasaret aan ons geopenbaar het en vra van ons om ons lewens voor Hom neer te lê as Here en Verlosser.
 
Verdere leeswerk
 
Bloomberg, C 1987 The Historical reliability of the Gospels IVP; Downers Grove
Bruce, FF 1960 The New Testament documents - are they reliable? Eerdmans; Grand Rapids
Bruce, FF 1974 Jesus and Christian Origins outside the New Testament Eerdmans; Grand Rapids
McRay, J 1991 Archaeology and the New Testament Baker Book House; Grand Rapids
Metzger, BM 1992 The text of the New Testament Oxford University Press; New York

 

Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!